Erna Ilse Grover nee Wichmann as jong meisie by die Fonteinedal in Pretoria ca. 1960.
Sarie Wichmann met Erna as baba en Marie Reynecke met Dawie ca. 1943.
Erna Ilse is die oudste dogter van Christoph(Wichie) en Sarie Wichmann. Sy is in 1941 gebore. Hulle het in Christiana gebly waar Heinrich Friedrich, Christoph Wilhelm en Annemarie gebore is. Daarna verhuis hulle na Vanderbijlpark waar die jongste suster Linda Sarah gebore is.
Sarie Wichmann met die vier Wichmanntjies wat in Christiana gebore is - ca. 1950.
Die tyd in Christiana was aangenaam en sorgvry. Sarie het altyd gese dat dit die lekkerste tyd van haar lewe was. Die kinders het in die tuin gespeel, die gesin het in die veld gaan kamp en piekniek hou. Die familie het kom kuier en die neefs en niggies in in die sinkdam en in die Vaalrivier geswem. Ouma Hannie, oom Gert en tannie Eveleen (Lien) het nog deel van die kinders se lewe uitgemaak.
Erna, Heinie en ouma Hannie (Johanna Aletta geb. Coetzer) (1893 - 1963) Foto geneem ca. 1944.
Erna, Heinie en Eveleen (Lien) (1928 - 2004). Foto geneem ca. 1944.
Bladsy uit foto album ca. 1942 - 1946
Links bo: Erna, Aletta en Dawie Reinecke op die swaai.
Regs bo: Erna en Heinie het 'n poppetee. ca. 1944
Middel: Erna in die Vaalrivier saam met tannie Lien.
Links onder: Wichie, Sarie saam met Erna, Heinie en Christoph ca. 1946.
Regs onder: Lien en Erna, Marie en Dawid Reinecke met 3 kinders in die water.
Desember-vakansies is daar na Glenmore en later Richardsbaai gegaan en gekamp. Gewoonlik saam met die Reineckes.
Op pad met vakansie - ouma Hannie is ook saam. ca. 1951
V.l. n. r. agter: Marie Reinecke, Ouma Hannie, Sarie Wichmann
Middel: Aletta Reinecke, Erna, Christoph, Heinie.
Voor: Annemarie en Dawie Reinecke
Wichmann gesin in Vanderbijlpark ca. 1961
As jong meisie was Erna baie lief vir musiek en het klavier gespeel. Veral lig klassiek en die populere musiek van die tyd. Sy het dit ook graag op plate en oor die radio geluister. Die jong tieners het destyds Sondagaand - terwyl Ma en Pa in die kerk was - skelm ingeskakel op LM Hit parade. Van haar gunsteling operettes was The Student Prince met Mario Lanza, The great Waltz van Johann Strauss en Lehar se Vrolike weduwee. Verder Duitse musiek soos die Gunther Kallmann en ander Duitse sangers - klasiek en populer - soos Fritz Wunderlich en Freddie.
Sy het musiekboeke vol populere musiek soos Yellow Bird, Tahiti vere land besit. Ek onthou nog in Waverley - waar ons drie susters in die sitkamer saam musiek geniet het - Erna en Annemarie voor die klavier en klein Linda al dansend en singend op die mat. Ek het beslis my liefde vir musiek gedeeltelik by Erna gekry.
Wichmann gesin in Waverley Pretoria ca. 1969.
V.l.n.r. Christoph (Wichie), Christoph, Heinie, Marie, Sarie, Erna
Voor: Marinda, Linda en Annemarie
Van my ander herinnerings sluit in waar tannie Bets haar leer cha cha cha in haar slaapkamer - die blokkiesvloer het die ronde merkies van die spykerhakke behou.
Erna was altyd baie lief vir geskenkies koop - en ek onthou nog hoe bly ek was toe ek twee splinternuwe papierpoppe op my bed gekry het, wat sy kort voor haar troue vir my gekoop het.
Haar troue met Wim van der Tang was 'n groot familiebyeenkoms in ons agterplaas in Waverley en almal het ingespring met hoenders gaarmaak en opsny, frikkadelletjies en reenboogtoebroodjies maak. My pa-hulle het orals tussen die bome en die huis gekleurde gloeilampies opgehang.
Marinda - Erna se oudste dogter - se geboorte - was veral vir my 'n groot geleentheid - Ousus se eerste baba en ek is maar nege jaar oud. Ek was altyd alleen en nou is ek ook nog 'n tannie. Sy is gebore met lang swart hare.
Later is haar dogters Ilse en Charlene gebore.
Met haar afsterwe laat sy drie dogters, drie kleindogters en een kleinseun asook een agterkleindogter Lanisha agter.
No comments:
Post a Comment