Sarah Johanna Wichmann en haar suster Marie Reynecke by die Voortrekkermonument in Pretoria ca. 1954.
Sarah - noemname Saartjie, Sarie - is in Schweizer Reinecke, Transvaal op 16 Mei 1915 gebore.
Sy was die oudste suster - die broers en susters was - Barney, Sarah, Marie, Gert en Eveleen.
Sy het skoolgegaan in Schweizer Reicnecke en ook haar eggenoot Christoph Johannes Wilhelm Wichmann (1914 - 1995) daar ontmoet.
As jong dogter was sy reeds 'n baie aktiewe lidmaat van die N.G. kerk, lid van die CVV. Een van haar beste vriendinne was Jeanette Eybers - die jongste dogter van ds. Eybers; en een van haar ander vriendinne - Lucia van der Heever (getroude van) - het met 'n predikant getrou en hulle het vriendinne gebly tot en met Sarie se afsterwe.
Sy was bekend vir haar aktiewe kerklewe - in al die gemeentes, altyd bedrywig in die Sustervereniging, die Bond van Dienaresse en die Sendingbond. Sy het altyd ywerig sendingbussies na die gemeentelede geneem en weer gaan haal om geld in te samel en selfs in later jare altyd 'n geldjie afgeknyp vir allerlei sendingaksies - soos onder meer Japansending.
Sy het haar matriek in 1933 gedoen. Sy het ondermeer Afrikaans, Engels, Duits, Wiskunde en Wetenskap as vakke gehad. Sy het vir my altyd die Duitse der die das vervoegings opgese, sy was goed in hoofrekene en het vasgeglo dat hulle beter Engels geleer is op skool - omdat die onderwyseres self Engelsprekend was. Soos haar tydgenote moes hulle lang stukke prosa in die tale leer en voordra.
Na matriek is sy vir 'n tyd na Johannesburg om 'n hoedekursus te doen. Sy en suster Marie het vir 'n tydperk in die Staadsdiens gewerk - destyds gelee in die Uniegebou - amper die hele Staatsdiens was in die Uniegebou gevestig. Sy het ook in 'n winkel in Schweizer Reinecke gewerk en daar het Christoph (Wichie) blykbaar linne kom koop vir 'n wasgoedsak. Wichie en Dawid Reynecke - Marie se latere eggenoot - was vriende en mede kollegas as onderwysers by die plaaslike Hoerskool.
Sy het destyds as jong vrou motor bestuur - wat nogal gewaagd was vir haar tyd - maar het ongelukkig nooit 'n motorlisensie gekry nie.
As jong vrou was sy reeds 'n baie bedrewe bakster - so veel so dat sy by haar aanstaande skoonsusters as Bakker bekend gestaan het en ook haar eie troue - November 1940 - se verversings gebak het.
Sy was haar hele lewe lank lief vir kosmaak en veral bak en het in alle gemeentes - Christiana, Vanderbijlpark en Waverley altyd koeksisters en pannekoek gebak.
As skoolkind het ek altyd my Ma gehelp om die koeksisters in die stroop te dompel. Sy is soms bygestaan deur ander gemeentevrouens. By skoolkermisse en basaars het sy altyd pannekoek gebak.
Sy was heel bedrewe met kleremaak en het veral vir die kinders klere gemaak - in die veertiger jare toe haar kinders klein was, was materiaal en klere skaars en hulle moes self onderklere vir die kinders maak. Sy het ook truie vir ons almal gebrei - ook soms vir ons poppe. Die laaste rok wat sy vir my gemaak het - was so 'n liggroen- en wit rokkie met 'n wit baadjie - van krimpelene. |
No comments:
Post a Comment