Saturday, 3 August 2013

Herinnerings aan Erna Ilse Grover nee Wichmann (1941-2012)





 
Erna Ilse Grover nee Wichmann as jong meisie by die Fonteinedal in Pretoria ca. 1960. 


Sarie Wichmann met Erna as baba en Marie Reynecke met Dawie ca. 1943.

Erna Ilse is die oudste dogter van Christoph(Wichie) en Sarie Wichmann. Sy is in 1941 gebore. Hulle het in Christiana gebly waar Heinrich Friedrich, Christoph Wilhelm en Annemarie gebore is. Daarna verhuis hulle na Vanderbijlpark waar die jongste suster Linda Sarah gebore is.

                                                     

Sarie Wichmann met die vier Wichmanntjies wat in Christiana gebore is - ca. 1950.

Die tyd in Christiana was aangenaam en sorgvry. Sarie het altyd gese dat dit die lekkerste tyd van haar lewe was.  Die kinders het in die tuin gespeel, die gesin het in die veld gaan kamp en piekniek hou. Die familie het kom kuier en die neefs en niggies in in die sinkdam en in die Vaalrivier geswem. Ouma Hannie, oom Gert en tannie Eveleen (Lien) het nog deel van die kinders se lewe uitgemaak.  





Erna, Heinie en ouma Hannie (Johanna Aletta geb. Coetzer) (1893 - 1963) Foto geneem ca. 1944.



 Erna, Heinie en Eveleen (Lien) (1928 - 2004). Foto geneem ca. 1944. 


Bladsy uit foto album ca. 1942 - 1946

Links bo: Erna, Aletta en Dawie Reinecke op die swaai.
 Regs bo: Erna en Heinie het 'n poppetee. ca. 1944
 Middel: Erna in die Vaalrivier saam met tannie Lien.
 Links onder: Wichie, Sarie saam met Erna, Heinie en Christoph ca. 1946.
 Regs onder: Lien en Erna, Marie en Dawid Reinecke met 3 kinders in die water.


Desember-vakansies is daar na Glenmore en later Richardsbaai gegaan en gekamp. Gewoonlik saam met die Reineckes.


Op pad met vakansie - ouma Hannie is ook saam. ca. 1951
V.l. n. r. agter: Marie Reinecke, Ouma Hannie, Sarie Wichmann
Middel: Aletta Reinecke, Erna, Christoph, Heinie.
Voor: Annemarie en Dawie Reinecke
 
Wichmann gesin in Vanderbijlpark ca. 1961

As jong meisie was Erna baie lief vir musiek en het klavier gespeel. Veral lig klassiek en die populere musiek van die tyd. Sy het dit ook graag op plate en oor die radio geluister. Die jong tieners het destyds Sondagaand - terwyl Ma en Pa in die kerk was - skelm ingeskakel op LM Hit parade. Van haar gunsteling operettes was The Student Prince met Mario Lanza, The great Waltz van Johann Strauss en Lehar se Vrolike weduwee. Verder Duitse musiek soos die Gunther Kallmann en ander Duitse sangers - klasiek en populer - soos Fritz Wunderlich en Freddie.

Sy het musiekboeke vol populere musiek soos Yellow Bird, Tahiti vere land besit. Ek onthou nog in Waverley - waar ons drie susters in die sitkamer saam musiek geniet het - Erna en Annemarie voor die klavier en klein Linda al dansend en singend op die mat. Ek het beslis my liefde vir musiek gedeeltelik by Erna gekry.


Wichmann gesin in Waverley Pretoria ca. 1969.

V.l.n.r. Christoph (Wichie), Christoph, Heinie, Marie, Sarie, Erna
Voor: Marinda, Linda en Annemarie

Van my ander herinnerings sluit in waar tannie Bets haar leer cha cha cha in haar slaapkamer - die blokkiesvloer het die ronde merkies van die spykerhakke behou.

Erna was altyd baie lief vir geskenkies koop - en ek onthou nog hoe bly ek was toe ek twee splinternuwe papierpoppe op my bed gekry het, wat sy kort voor haar troue vir my gekoop het.

Haar troue met Wim van der Tang was 'n groot familiebyeenkoms in ons agterplaas in Waverley en almal het ingespring met hoenders gaarmaak en opsny, frikkadelletjies en reenboogtoebroodjies maak. My pa-hulle het orals tussen die bome en die huis gekleurde gloeilampies opgehang.

Marinda - Erna se oudste dogter - se geboorte -  was veral vir my 'n groot geleentheid - Ousus se eerste baba en ek is maar nege jaar oud. Ek was altyd alleen en nou is ek ook nog 'n tannie. Sy is gebore met lang swart hare.
 
 
Later is haar dogters Ilse en Charlene gebore.
 
Met haar afsterwe laat sy drie dogters, drie kleindogters en een kleinseun asook een agterkleindogter Lanisha agter.
 
 
 
 







Thursday, 1 November 2012

Sarah Johanna Wichmann nee Pretorius ( 1915 - 1986) Grepies uit haar lewe (1)

Sarah Johanna Wichmann en haar suster Marie Reynecke by die Voortrekkermonument in Pretoria ca. 1954.

Sarah - noemname Saartjie, Sarie -  is in Schweizer Reinecke, Transvaal op 16 Mei 1915 gebore. 
Sy was die oudste suster - die broers en susters was - Barney, Sarah, Marie, Gert en Eveleen. 

Sy het skoolgegaan in Schweizer Reicnecke en ook haar eggenoot Christoph Johannes Wilhelm Wichmann (1914 - 1995) daar ontmoet.

As jong dogter was sy reeds 'n baie aktiewe lidmaat van die N.G. kerk, lid van die CVV. Een van haar beste vriendinne was Jeanette Eybers - die jongste dogter van ds. Eybers; en een van haar ander vriendinne - Lucia van der Heever (getroude van) - het met 'n predikant getrou en hulle het vriendinne gebly tot en met Sarie se afsterwe.

Sy was bekend vir haar aktiewe kerklewe - in al die gemeentes, altyd bedrywig in die Sustervereniging, die Bond van Dienaresse en die Sendingbond. Sy het altyd ywerig sendingbussies na die gemeentelede geneem en weer gaan haal om geld in te samel en selfs in later jare altyd 'n geldjie afgeknyp vir allerlei sendingaksies - soos onder meer Japansending.

Sy het haar matriek in 1933 gedoen. Sy het ondermeer Afrikaans, Engels, Duits, Wiskunde en Wetenskap as vakke gehad. Sy het vir my altyd die Duitse der die das vervoegings opgese, sy was goed in hoofrekene en het vasgeglo dat hulle beter Engels geleer is op skool - omdat die onderwyseres self Engelsprekend was. Soos haar tydgenote moes hulle lang stukke prosa in die tale leer en voordra.

 Na matriek is sy vir 'n tyd na Johannesburg om 'n hoedekursus te doen. Sy en suster Marie het vir 'n tydperk in die Staadsdiens gewerk - destyds gelee in die Uniegebou - amper die hele Staatsdiens was in die Uniegebou gevestig. Sy het ook in 'n winkel in Schweizer Reinecke gewerk en daar het Christoph (Wichie) blykbaar linne kom koop vir 'n wasgoedsak. Wichie en Dawid Reynecke - Marie se latere eggenoot - was vriende en mede kollegas as onderwysers by die plaaslike Hoerskool.

Sy het destyds as jong vrou motor bestuur - wat nogal gewaagd was vir haar tyd - maar het ongelukkig nooit 'n motorlisensie gekry nie.

As jong vrou was sy reeds 'n baie bedrewe bakster - so veel so dat sy by haar aanstaande skoonsusters as Bakker bekend gestaan het en ook haar eie troue - November 1940 - se verversings gebak het.

Sy was haar hele lewe lank lief vir kosmaak en veral bak en het in alle gemeentes - Christiana, Vanderbijlpark en Waverley altyd koeksisters en pannekoek gebak.

As skoolkind het ek altyd my Ma gehelp om die koeksisters in die stroop te dompel. Sy is soms bygestaan deur ander gemeentevrouens. By skoolkermisse en basaars het sy altyd pannekoek gebak.

Sy was heel bedrewe met kleremaak en het veral vir die kinders klere gemaak - in die veertiger jare toe haar kinders klein was, was materiaal en klere skaars en hulle moes self onderklere vir die kinders maak. Sy het ook truie vir ons almal gebrei - ook soms vir ons poppe. Die laaste rok wat sy vir my gemaak het - was so 'n liggroen- en wit rokkie met 'n wit baadjie - van krimpelene. 

Tuesday, 30 October 2012

Pretoria Jakarandastad


Straattoneel in Sunnyside. Fotos geneem deur L. Raath

Alhoewel die Jakarandas nie inheems aan Pretoria is nie - het die boom met sy purper tooisel in Oktobermaand - sinoniem met Pretoria geword.

Die eerste Jakarandas is in 1888 deur J.D. Celliers by sy huis Myrtle Lodge in Sunnyside geplant. Die oudste bome word gesien op die terrein van die Sunnyside Primary School.

In 1898 het die kweker en saadhandelaar James Clark 'n konsessie by die ZAR ontvang en die eerste saad van Australie bestel. Hy het in November 1906 200 bome aan die Stadsraad geskenk vir aanplanting. Die bome is in Bosmanstraat en in Arcadiapark - waar die Kunsmuseum later gebou is - geplant. 

Die groot skaalse aanplanting is egter deur Jakaranda Jim - Frank Walton Jameson bewerkstellig. Hy het as Stadsraadslid in 1909 - met Uniewording en Pretoria wat die adminastratiewe hoofstad geword het - aanbeveel dat die stad verfraai moet word. En dan wel deur die aanplant van Jakarandas.

Teen 1920 was daar reeds 6 000 bome.

Die wit Jakarandas wat Herbert Baker straat in Groenkloof verfraai - is heemlinge van Peru. Die het via Kalifornie - waar dit vanaf Peru as plantlote geneem is - na Suid Afrika gekom - eers in 1961.

Bron: Heydenrych H. & A. Swiegers  Discover Pretoria. Pretoria, 1999.


Friday, 14 September 2012

Malene, Corine en ek kom al 'n lang pad saam. Al drie van ons het in die 1980's by die destydse Transvaalse Provinsiale Adminastrasie Biblioteek en Museumdiens gewerk. Malene by die Hoofkantoor van Museumdiens en Corine en ek as kurators by die Pelgrimsrus museum. Sy het gereeld die provinsiale museums besoek in Barberton, Sabie, Potgietersrus, Schoemansdal, Pietersburg asook Lydenburg. Sy moes ons leer om museumvoorwerpe te katalogiseer.

Sy het in die begin van die 1990's na die destydse Naskom gegaan en Corine het in 1991 begin werk en ek in 1992. Sy het begin in die ou Boomstraatmuseum, het saamgetrek na De Villiershof in Sunnyside en weer na die nuwe (ou) museumgebou die sogenaamde African Window.

Nou het sy afgetree en laat 'n groot leemte agter - beide as personeellid, kundige, mentor en steunpilaar vir ons almal.